VREDENBURG – Kinders in Witteklip staan weekliks met hul kosbakkies gereed vir ’n lekker maaltyd om hul magies vol te maak.
Vyf huisvroue, Belinda Booysen, Meisie Stewe, Katriena Jordaan, Kathy Mitchells en Amelia Nel van Witteklip, gee elke Donderdag vir minstens 100 behoeftige mense ’n bord kos.
Volgens Booysen het hulle in Maart 2010 die nood gesien en besluit om Eloi’s Sopkombuis uit hul eie sakke te begin.
“Ons het met ’n 5-liter pot begin en vandag het ons ’n 20-liter pot wat meer as 100 behoeftiges voed.”
Die huisvroue vra gewoonlik donasies van die gemeenskap en elkeen is altyd vrywillig om te help – veral die pensioenarisse se harte is altyd oop om te help.
“Die blydskap op die kinders se gesigte en die dankies is wat ek die meeste geniet wanneer ons vir hulle kos gee,” het Stewe gesê.
Die kinders en inwoners kry kos by Booysen se huis. Almal is welkom by die sopkombuis.
Stewe sê daar gaan nooit iemand honger huistoe nie, hulle sal altyd ’n plan maak.
Dié sopkombuis se grootste nood is ’n nuwe stoof omdat die een wat hulle tans gebruik nie meer in ’n goeie toestand is nie en van die plate nie meer werk nie.
Enigiemand wat die sopkombuis wil help met donasies of ’n nuwe stoof kan Booysen by 071 8444 930 bel.