NAVORSERS by die Universiteit Stellenbosch vra die hulp van die Suid-Afrikaanse publiek om dit aan te meld indien hulle enige witdoodshaaie gewaar – veral in die koue waters van die Weskus.
Die navorsing word gedoen deur Sara Andreotti, ? Italiaanse mariene bioloog, wat besig is met haar doktorsgraad in dierkunde onder leiding van prof Conrad Matthee en dr Sophie von der Heyden van die Universiteit Stellenbosch se Departement Plant- en Dierkunde. Haar projek oor die gedrag en genetiese struktuur van hierdie haaie word uitgevoer in samewerking met wetenskaplikes by die seane en kus-afdeling van die departement van omgewingsake.
Witdoodshaaie is bekend daarvoor dat hulle trekdiere is; tog is baie min inligting oor hulle verspreiding langs die Suid-Afrikaanse kuslyn beskikbaar. Onlangse studies toon dat Valsbaai, Gansbaai, Mosselbaai, Struisbaai, Port Algoabaai en Kleinbaai groot konsentrasies van witdoodshaaie het, en dat die haaie gereeld tussen hierdie gebiede beweeg.
“Niemand weet werklik hoe stabiel die voorkoms van haaie in hierdie gebiede is nie,” vertel Andreotti. “Daarom wil ons ons kennis oor hulle uitbrei deur individuele haaie te kan uitken danksy ons fotodatabasis, asook met die gebruik van genetiese metodes.”
Gedurende die volgende maand (mid-Februarie tot mid-Maart) sal Andreotti en haar medewerkers in ’n seiljag, die Catalyst, vaar om te soek na nuwe “konsentrasies van haaie” en om witdoodshaaie af te neem.
Matthee het ’n beroep gedoen op lede van die publiek, soos vissers en seiljagvaarders, om met die navorsingspan in aanraking te kom indien hulle ’n witdoodshaai in die komende maande opmerk.
“Ons sou veral graag wou hoor van waarnemings langs die Weskus,” sê hy. “Dit sal besonder nuttig wees as mense ons onmiddellik kan kontak, met GPS-koördinate of die ligging en die tyd van die waarneming.”
? Fotografiese databasis word tans opgebou van alle witdoodshaaie wat langs die Suid-Afrikaanse kuslyn waargeneem word.
Onlangse studies het getoon dat die merke (of snye) aan die agterkant van die dorsale vin van ’n witdoodshaai vir ten minste 22 jaar daar kan bly, en dat dit baie betroubare sigbare beskrywingsmerkers is. “Hierdie merke is amper soos die individuele ‘vingerafdrukke’ van elke haai,” sê Andreotti. “Deur fotografiese inligting met genetiese data te kombineer, sal ons deeglike en konsekwente beskrywings van individuele haaie kan maak. “Die gebrek aan basiese inligting oor hierdie kwesbare spesie is stellig een van die grootste hindernisse ten opsigte van hulle bewaring,” sit Andreotti die dryfkrag agter haar studie uiteen.
“’n Meer omvattende begrip van hulle bevolkingsdinamika sal ons help om ’n gepaste langtermyn- bewaringstrategie te ontwikkel.”
Mense wat witdoodshaaie langs die Suid-Afrikaanse kus gewaar en dit wil aanmeld, kan Andreotti by 072 321 9198 skakel (let wel: net Engels en Italiaans magtig), of Rutzen by 082 322 3745. Foto’s kan gestuur word na sara@sun.ac.za. Besoek www.sun.ac.za/botzoo/andreotti vir meer inligting. (Uitgereik deur: Engela Duvenage, Media: Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch.)