News / Wangedrag in toiletprojek ondersoek


VREDENBURG – Moontlike wangedrag word ondersoek in die omstrede R19 miljoen buite-toiletprojek.

 

Saldanhabaai-munisipaliteit het Dinsdag in ’n persverklaring bekend gemaak dat Vrydag besluit is om ’n interne ondersoek na “flikkerende rooi ligte” in dié projek te loods.

Noel van Stade, waarnemende munisipale bestuurder, asook Rosil Jager, uitvoerende burgemeester, wou nie verdere besonderhede oor wat presies ondersoek word in hierdie stadium bekend maak nie weens die sensitiwiteit van die ondersoek.

Die R19.5 miljoen buite-toiletprojek is op 13 Februarie 2009 deur die provinsiale regering bekendgestel met die doel om toilet- en badkamerfasiliteite aan bejaarde en gestremde mense in behoeftige gemeenskappe in Saldanhabaai-munisipaliteit te verskaf.

Dit het egter meer as ’n jaar geneem voor met bouwerk vir die eerste toilette in Oktober 2010 begin is. Te midde van die blydskap was daar ook spoedig klagtes oor bouwerk wat glo van swak gehalte was.

’n Paar maande later het Bongi Madikizela, die provinsiale minister van behuising, tydens sy besoek aan die Weskus op 5 en 6 April, sy ontevredenheid oor die gesloer met die toiletprojek uitgespreek. Die munisipaliteit het beweer die projek sloer omdat meer as die helfde van die begunstigdes nie met die bouplanne gelukkig was nie, ook dat kommunikasieprobleme tussen van die kontrakteurs en materiaalverskaffers die proses vertraag. Die versekering is gegee dat die projek teen middel-2011 afgehandel sou wees.

Peter Lewack was die projekbestuurder en 33 kontrakteurs was vir die projek aangestel.

Volgens Van Stade is die projek in Desember verlede jaar gestop. Tot op hede is volgens hom sowat 582 toilette gebou en is sowat R7.3 miljoen reeds spandeer wat dus neerkom op ’n besteding van sowat R12 000 per badkamer.

Luidens die persverklaring onderneem die munisipaliteit om na afloop van die ondersoek weer ’n persverklaring uit te reik.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Sunday 2012-05-20
Please select your area for forecast
CPT 8° - 15° icon
PTA 5° - 21° icon
JHB 3° - 18° icon
BLOEM -2° - 15° icon
DBN 16° - 21° icon
PE 7° - 17° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs