IN die Swartland gaan herwinningsake blykbaar veel beter as aan die Weskus.
In Weslander se 26 Januarie- en 9 Februarie-uitgawes is berig oor ’n private herwinningsmaatskappy in Vredenburg se jarelange stryd om kop bo water te hou weens duur huur vir klein persele ten spyte van die groot aanvraag na herwinning.
Die Saldanhabaai-munisipaliteit help min ten spyte dat hul eie herwinningsaanleg, wat in 2006 geopen is, al jare in onbruik staan. Die Vredenburg-stortingsterrein het ook net vyf jaar oor voor dit volle kapasiteit bereik.
Buite Malmesbury, word ’n munisipale herwinningsaanleg al die afgelope dertien jaar bedryf.
Hein Baumgarten, bestuurder van dié aanleg, glo hul herwinningspogings het beslis die stortingsterrein buite Malmesbury se leeftyd verleng. “Ons bespaar maandeliks sowat 800 m² wat sowat ’n kwart van die stortingsterrein se afvalstroom is,” het Baumgarten verduidelik.
Volgens hom het die Swartland-munisipaliteit aanvanklik bepaal dat die 5ha terrein se leeftyd vyf jaar sal wees. Dié stortingsterrein is al 17 jaar oud.
Hy glo die verlenging van die terrein se leeftyd is grootliks te danke aan herwinning, maar hy het ook gesê dat bydraende faktore soos nuwe toerusting, hersiende afvalbeheerplan en ontwikkelingsplan ook ’n groot rol gespeel het.
“Ná raming sal die terrein vir die volgende 35 jaar spasie hê as alles voortgaan soos nou.”
Baumgarten glo Swartland se sukses lê by raadslede en munisipale amptenare wat herwinning hoog op hul prioriteitslys stel.
Volgens Nora Meyer, mede-eienaar van World Focus Recycling, die herwinningmaatskappy op Vredenburg, probeer hulle die munisipaliteit reeds vyf jaar oortuig dat die lewensduur van die Vredenburg-stortingsterrein verleng kan word.
World Focus Recycling glo dat hulle met die hulp van die munisipaliteit groot sukses op die Weskus met herwinning kan bereik.
Tot dusver was hul pogings om met die munisipaliteit saam te werk nog onsuksesvol.
Dié private aanleg het ook onlangs ’n departementele gesondheidsbesoek ontvang na klagtes oor hul “morsige perseel”.
Volgens die Meyers was die opeenhoping van rommel die gevolg van ’n ongelukkige sameloop van omstandighede.
Hul wag steeds op terugvoering van die departement van gesondheid.
Noel van Stade, waarnemende munisipale bestuurder van Saldanha-baai-munispaliteit het verlede week aan Weslander gesê dat ’n daadwerklike poging aangewend word om ’n afvalbestuurplan in plek te stel en dat die herwinningsaanleg buite Vredenburg in die nabye toekoms weer in werking sal wees.