Home / Reisiger en reisskywer se voetspore loop ver en di

DIE Weskussee weerkaats mos selfondersoek. By die see staan jou siel stil saam met die tyd. Wat jy is breek soos ’n brander teen wat jy wil wees.” – Elizabeth Grobler.


 

Johan Bakkes, reisiger, reisskrywer, professor in rekeningkunde en reisfilosoof is aan die woord.

Johan is gevra om as seremoniemeester op te tree tydens die Oppiwa-jolyt wat verlede naweek by Jacobsbaai gehou is.

“Dis nou nie my manier van ontspanning nie,” dink hy. “Ek sukkel maar om so in die openbaar ‘uit ’n koek te spring’, soos my eie vrou Nanna sou sê.”

Johan het in Saldanha grootgeword. Die Weskuswater bruis deur sy are. Die landskap met sy wyd uitgestrekte vlaktes, die yskoue see in alle skakerings van blou, en die ontvanklikheid van die Weskus se mense, lê hom na aan die hart.

Toe Willie Singleton van Jacobsbaai, of Slinger soos hy hom noem, se versoek met beloftes van goeie wyn, perlemoen en oesters verpak word, is sy besluit geswaai, vertel hy met ’n vonkel in die oog.

“Elke bleddie dorp in die land het nou al ’n fees: patat, biltong, kersie, vleis, aartappel, mampoer, olyf, druif en kreef – ek dink al die resepte in tannie SJ de Villiers se Kook en Geniet is al ’n fees.”

Sy fyn humor word met elke sin wat uit sy mond kom, duideliker en laat die gehoor skater.

Johan se 55 jaar is deurdrenk met herinneringe, insidente, ondervindinge en van onthou. Hy noem Saldanha sy “kleintyddorp”.

Sy beeld is een van woestynreisiger, kompleet met veldhoed, vol baard, bos krulhare wat onder die hoed tot op sy skouers hang en die verweerde pyp, wat elke nou en dan met Boxer-tabak gestop word. Natuurlik ook die stapstewels wat duidelik wys die skoene het al baie myle afgelê.

Verrassend dus om te verneem dat die berese man eintlik sy brood verdien as professor in rekeningkunde aan die Universiteit van die Weskaap. As Johan ’n keuse had, sou klasgee duidelik tweede viool speel.

Hy het besef hy sal sy reisprogram moet inkort toe sy vrou Nanna, na ’n langerige tuisblysessie eendag vir hom vra: “Nou wanneer gaan jy weer ’n bietjie weg.”

Vermaak is, volgens Johan, iets om die “ou gewone lewe” momenteel anders maak. “Dit is wat toneelspelers, skrywers en musikante tog doen.”

Johan het verlede Saterdagoggend op een van die Oppiwa-waens as understudy saam met skrywer Dana Snyman deur Jacobsbaai se strate gery en die 22 wa-ryers getrakteer met hul kwinkslae, voorlesings, en staaltjies uit hul reise. Die wynborg se wyn het gevloei en almal het die rit terdeë geniet.

Met die derde Oppiwa-rit laat dié dag het Johan plekke geruil en was Dana die understudy.

Só vertel hy ook van sy jarelange reisgenoot, ’n blonde winkelpop wie se onderlyf ongelukkig moet agterbly wanneer hy op reis gaan, aangesien sy nie sitgemaak kan word nie. Wat hy van dié reisgenoot geniet is dat sy nie kla nie, nie teepraat nie en nooit, ooit sy besluite in twyfel trek nie.

Selfs nie wanneer ’n karwag by ’n bekende kuierplek aan die Weskus kom sê: “Meneer, meneer moet darem nou klaarkry hier binne. Dit smaak my mevrou kry darem nou al te warm daar in die bakkie.”

Johan Bakkes se reisverhale is alombekend. Sy ma Margaret, self ’n bekende skrywer, is een van die drie belangrikste vroue in sy lewe. Sy dogter het sy gene geërf en is ’n reisende beroepsfotograaf, “daarom sal sy nooit ryk wees nie”, sê hy.

Dan, sy “persoonlike, eie vrou” Nanna. Sy is ’n sielkundige en skilder die afgelope dekade heeltyds. En derdens sy ma, Margaret. “Op 55 is ek steeds vir haar bang,” sê die vors man met sy vol, spikkelbaard en lang, krulhare. “As sy aan die anderkant van die foon is, weet ek, hier kom moeilikheid.”

Enigiemand wat hou van skryf, reisverhale lees en wonder wat dit is om die langpad alleen aan te pak, se wêreld kry ’n ryker, nuwe dimensie in die teenwoordigheid van dié charismatiese oud-Weskusser wie se woorde uitborrel en net so in ’n verhaal omskep kan word.
  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Sunday 2012-05-20
Please select your area for forecast
CPT 8° - 15° icon
PTA 5° - 21° icon
JHB 3° - 18° icon
BLOEM -2° - 15° icon
DBN 16° - 21° icon
PE 7° - 17° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs