SALDANHA – Stellings soos steelvis, kwotas rek, of skale “aanpas” kan ’n blik wurms in die visbedryf laat uitpeul.
Steelvis is slegs een manier waarmee spelers in die visbedryf glo hul sakke volstop en sodoende belastings ontduik en die bronne uitroei.
“Ons pelagiese visbron, wat veronderstel is om ’n goedkoop voedselbron vir die armes te wees, het onbekostigbaar geword omdat maatskappye die bron vernietig het en nog daagliks daarmee voortgaan. Duisende tonne sardyn en eetbare vis word gesteel en niemand word vervolg en aangekla nie.”
Dié aantygings van Rassie Erasmus van Moorreesburg in ’n skrywe aan Weslander het twee reaksies uitgelok: spelers in die bedryf het soos mossels toegeslaan, terwyl ander verheug is dat dié vrot blik wurms uiteindelik oopgemaak is.
Erasmus, nou afgetree, was van 1964 tot 2009 in verskillende werkshoedanighede in die vis- en mynbedryf betrokke en sê hy kan alles staaf wat hy sê.
“Die vorige regeringsbeleid van ‘jy maak so of ...’ het my genoodsaak om deel van die bedrog en uitroei van pelagiese en kreefbronne te wees,” het hy aan Weslander gesê.
In die tydperk van 37 jaar was hy by vyf fabrieke in permanente diens en by etlike ander het hy as konsultant opgetree . Volgens hom is moontlik 165 000 ton vis met ’n waarde van R19m net in 1987 nie verklaar nie.
Verskeie visfabrieke aan die Weskus het bevestig dat Erasmus wel in hulle diens was. “Aannames dat fabrieke vis steel is ’n ernstige klag en iemand wat sulke bewerings maak, sal dit in die hof moet bewys,” het ’n fabriekbestuurder in St Helenabaai gesê.
Volgens Erasmus verwerk alle fabrieke vis op dieselfde metode. Die hele verwerking, inmaak- en meelproduksie word bepaal teenoor tonne rou vis verwerk. “Met die inmakery word gewig by aflaai sover moontlik verminder en daarna word ’n sekere persentasie as ander spesies verklaar om so lank moontlik ’n goeie kwota te behou.
“Met vismeelproduksie word vis op verskeie maniere op onwettige wyse afgelaai.
“Vis wat nooit by die skaal kom om geweeg te word nie, ’n skaal wat nie reg beheer word nie, valse verklarings van die boot se vrag gewig wat dan later as bonusse uitbetaal word, is maar enkele van die wyses waarop met die belangrike bron gemors word,” het Erasmus gesê. Hy het bygevoeg dat vals verklarings van visinspekteurs wat omkoopgeld aanvaar, dikwels vangste van kleinsardyn verander na ansjovis of maasbanker.
Noem die woord steelvis of kwotas rek en Johan de Goede, assistentdirekteur, pelagiese en diepsee-visbestuur by die departement landbou, bosbou en visserye in Saldanha, se nekhare staan orent.
“Die pelagiese visbedryf se vangste word deur die jaar weekliks uiters streng beheer. Permitvoorwaardes en kwotas vir die pelagiese sektor word twee maal per jaar deur navorsers ter see bepaal deur biomassa-opnames van die verskillende pelagiese spesies te bereken.”
Slegs gedeeltes van die ansjovis en sardyn-biomassas word as kwotas aanbeveel om volhoubare ontginning te verseker. Die sardyntoedeling vir vanjaar is meer as verlede jaar en toon tekens van herstel. Hy ontken dat pelagiese bronne uitgeroei is.
Om die pelagiese visbedryf te verstaan, moet mense besef dat dié vis deel is van die groter voedselketting en ook stapelvoedsel is van robbe, snoek, seevoëls en ander roofvis. Dié pelagiese spesies het ’n kort lewensduur – ansjovis 3 jaar en sardyne so 5 jaar.
“Dié visgetalle kan van een jaar tot die volgende baie wissel weens hul kort lewenssiklusse. Daarom wissel kwotas van een jaar tot die volgende en speel omgewingsfaktore soos seetemperatuur, seestrome en wind alles ’n rol op die volgende jaar se biomassas.
“Te veel pelagiese vis kan weer tot te min planktoniese kos vir die vissies lei en dan weer tot swak kwaliteit van die eiers en dus weer swakker vislarwes, wat natuurlike mortaliteit meebring,” het De Goede verduidelik. Tans is 109 sardynkwotas aan regshouers toegeken, waarvan 71 hiervan ook ansjovisregte het. Die regte duur vir ’n tydperk van 15 jaar en die huidige langtermyn-regte verval in 2020.
Om die bedryf te reguleer moet elke regshouer steeds jaarliks aansoek doen om ’n vangspermit waarin nie net die tonnemaat en spesie uiteengesit word nie, maar ook die naam van die boot, die kwotahouer en aan watter fabriek hy mag lewer, om slegs enkele aspekte van die permit te noem.
“Klein sardyn en ander visspesies is alyd teenwoordig by die vangs van ansjovis – nie een van die spesies swem in isolasie nie – en voorsiening word hiervoor gemaak,” het De Goede gesê.
Die migrasie van sardyn na die Mosselbaaikus in 2002-2003 het sardynvangste na die Suidkus uitgebrei en in daardie tydperke het baie min sardyn aan die Weskus geland.
“Rolspelers in die bedryf het toe tonne sardyn vanaf Mosselbaai per vragmotor na onder meer Weskus-fabrieke aangery, waaruit ’n ondersoek na beweerde onderrapportering van die sardynvangste gelas is en die Mosselbaaisaak voortgespruit het. Die saak is steeds hangende.
“Die dept – waarin die voormalige marine en kusbestuur of MKB nou geïnkorporeer is – het die afgelope drie jaar in samewerking met die visbedryf en NRCS-inspekteurs ’n indiepte ondersoek geloods en prosedures in plek gesit om te verseker dat alle skale in die bedryf aan NRCS-wetgewing voldoen en die weeg van alle vangste dus volgens NRCS-standaarde gemonitor word.
“Skippers se geskatte vangste mag nie met meer a 10% afwyk van wat op die skale ingeweeg word nie,” het De Goede gesê.
“Ek is vas oortuig dat die geskatte vangste wat skippers nou inbring, 99.9% ooreenstem met wat ingeweeg word en sou dit verskil sou die skippers baie gou sulke inligting deurgee.
“Inligting en bewyse van enige aard wat kan lei tot skuldigbevinding oor enige aspek van onderrapportering, manipulasie van skale en so meer moet asseblief dadelik aan die departement rapporteer word. Die departement sal teen diesulkes optree, waarna hul regte in gedrang mag kom.”
’n Voormalige skipper, wat vir 15 jaar vir ’n Amerikaanse maatskappy gewerk het, erken dat steelvis en kwota rek algemene praktyk by die meeste visfabrieke is/was.
Hy erken voorts dat kompetisie geweldig sterk is en dat sou die persentasie vangste die kwota skeef trek – bv meer rooioog as sardyne – ook dumping (storting) van tonne dooie vis in die diepsee tot gevolg het.