HOPEFIELD – ’n Bekende sakeman en geliefde inwoner is Sondag in die vroeë oggendure in ’n motorongeluk dood.
Danie Heyns (38), eienaar van Heyns Elektries op dié dorp, is Sondag, 12 Februarie om 03:15 dood ná sy bakkie die pad verlaat en gerol het.
Dié noodlottige ongeluk het op die R45 in die rigting na Hopefield, sowat 500m na die hoenderplaas-inrit geskied.
Volgens ao Diaan Lourens, speurdiensbevelvoerder, het Heyns vermoedelik die pad geleidelik verlaat en te skerp gedraai óf uitgeswaai wat veroorsaak het dat sy bakkie rol.
“Ons vermoed Heyns het óf agter die stuurwiel aan die slaap geraak óf vir iets in die pad uit geswaai. Daar is geen remmerke op die pad nie,” het Lourens gesê.
Volgens kapt Gotlieb Adams, stasiebevelvoerder, word ’n saak van strafbare manslag as standaard prosedure tans ondersoek.
“Hy kon nie ’n vlieg skade aan doen nie. Hy was ’n liefdevolle mens met ’n passie vir goed met wiele wat kan brul. Ons gaan hom vreeslik mis,” het sy skoonsuster, Lindé Heyns gesê.
Heyns se gedenkdiens is Maandag, 20 Februarie om 11:00 by die NG Kerk Hopefield.
Hy laat sy ouers, Johny en Joey, sy twee broers, Chris en Markus, asook sy twee seuns, Jean (12) en Stefan (8), agter.