VREDENBURG Die gesinne van die drie vissermanne wat in Desember in St Helenabaai verdrink het, se nood is met ’n voedselskenking verlig.
Op Valentynsdag, 14 Februarie het die Vissersenjin van Suid-Afrika (VESA), ’n nie-regerings vissersorganisasie, Kevin Wilson, eienaar van Pick ’n Pay met ’n sertifikaat van waardering verras, vir sy waardevolle bydrae tot vissergemeenskappe aan die Weskus.
Volgens Abigail Smith, voorsitter en stigter van VESA, het Wilson se winkel in die verlede voedsel aan vissers van St Helenabaai en Elandsbaai geskenk.
Toe drie vissers in Desember 2011 by St Helenabaai verdrinkhet, het die winkel weer bygedra tot ’n voedselskenking wat aan die vissers se gesinne oor die Kerstyd gegee is.
“Die waarde van voedsel moet nooit onderskat word nie, veral nie in ’n ekonomies wisselvallige sektor soos die visbedryf nie,” het Smith gesê. Volgens haar word kinders se lewe makliker op skool as daar voldoende in hul primêre behoefte, naamlik voedsame kos, voorsien word. Na die oorhandiging van die sertifikaat is ’n gebed vir die vissermanne wat verdrink het gedoen en hul gesinne het elk ’n persoonlike boodskap van dankbaarheid aan Wilson gebring.