SALDANHA Die tweede span van Vredenburg-Saldanha-krieketklub het op hul tuisveld met die derde span van Young Peoples van die Paarl kragte gemeet.
Die tuisspan het die loot in die 50 boulbeurte Eerste Divisie Drakenstein-krieketwedstryd gewen en die besoekers ingestuur om eerste voor die penne stelling in te neem.
Die besoekers het met ’n welverdiende oorwinning van 19 lopies geseëvier nadat hulle die tuisspan vir 173 lopies uitgeboul het.
Die aanvangsboulers, Duwayne Smith en Deverill de Klerk het met hul blitsballe losgetrek en die besoekers se aanvangskolwers moes vir die vale wal gooi.
Dit was egter ’n geval van “hoe later hoe kwater’’ want die Bolanders se stertkolwers, Dean Hendricks met 38 lopies, Stanton Kamalie met 26 lopies en Marlin Jackson met 21 lopies, het die span se telling laat aangroei na 192 lopies.
Die tuisspan se boulers, wat hul teenstanders in toom gehou het, was Garth Abrahams met 2/25, Marlin Kannemeyer met 2/26 en Carlo Thomas wat twee kolwers vir 34 lopies kleedkamer toe gestuur het.
Na ’n kort pouse het die tuisspan hard probeer om die wenlopies te jaag maar ongelukkig het hul middelkolforde in duie gestort. Carlo Thomas het ’n ware kapteinsbeurt gespeel deur 56 lopies te moker.