VREDENBURG Die eerste Bolandse 20/20 kitskrieketwedstryde het Saterdag in alle erns afgeskop.
Die Vredenburg-Saldanha-krieketklub het op hul tuisveld met hul eweknie, Worcester United-krieketklub in ’n seksie B Premierliga A-wedstryd kragte gemeet.
Die spel is vertraag omdat die besoekers geweier het om met die wedstryd voort te gaan omdat ’n gedeelte van die buiteveld nat was.
Volgens die tuisspan se hoofwoordvoerder, Louis Hartzenberg het hulle alles in hul vermoë gedoen om die probleem op te los.
Die paneel skeidsregters het die boulbeurte na slegs ses verminder en daar was min krieket gespeel.
Die Weskussers het eerste gekolf en 59 lopies aangeteken. Bardo Fransman van die besoekers het twee paaltjies vir 12 lopies laat kantel. Die besoekers kon in hul toegelate boulbeurte net 49 lopies aanteken en die tuisspan het die wedstryd met 10 lopies gewen.
Anwell Newman van die tuisspan het twee kolwers van die besoekers vir 18 lopies kleedkamers toe gestuur.
Die kitskrieket eindig op Saterdag, 17 Maart met die semi-finaal op Saterdag, 31 Maart.