FEESKOORS loop hoog op die Weskus met drie feeste in die pyplyn vir Maart.
Die Lambertsbaai Kreeffees begin vanjaar vroeër kook van Vrydag tot Sondag, 2-4 Maart.
Van kreef eet tot voete woekel, die Kreeffees bied ’n iets vir ieder en elk. Top kunstenaars soos Ray Dylan, Nicholis Louw, Valiant Swart, Saarki, en Ricus Nel gaan optree. Toegang vir volwassenes: Vrydag R80; Saterdag R130; Sondag R50. Kinders (6-16 jaar): Vrydag R50; Saterdag R50; Sondag R30. Gratis vir kinders onder 6 (slegs met ouer toesig).
Kaartjies is beskikbaar by Computicket.
Skakel Mariette Breytenbach by die Lambertsbaai Toerismekantoor by 027 432 1000, of besoek www.kreeffees.com.
Die tweede Jazz on the Rock-musiekfees by Tietiesbaai-oord word ook van Vrydag tot Sondag, 2-4 Maart gehou.
Feesgangers kan regmaak vir ’n oordosis Jazz-klanke, vermaak met kunstenaars soos N2, Andrew Young, Allou April, Claire Phillips, Conversations with Joe McBride, Airborne, Alistaire Izobel en Latynse musiek deur internasionale kunstenaars soos Camillo Lombard en Latin Kings.
Die kampeerplekke vir dié naweek by die Tietiesbaai-oord is reeds in Oktober verlede jaar uitverkoop. Mense wat by ’n bed-en-ontbyt of selfsorgverblyf in Paternoster, Vredenburg, Saldanha of Langebaan plek bespreek, kwalifiseer vir ’n naweekpas wat dieselfde voordele bied as diegene wat by die Tietiesbaai-oord kampeer.
’n Dagbesoeker kry slegs Saterdag toegang tot die fees. Die hekke open om 07:00 en alle dagbesoekers moet die reservaat teen 18:30 verlaat. Die musiek begin om 10:00 en eindig om 18:00.
Dagbesoeker-kaartjies is te koop by Computicket. Vir die volledige feesprogram en meer inligting, besoek www.jazzontherocks.net.
Die Porterville Christusfees vind van 9 tot 11 Maart plaas. ’n Gemeenskapsfees met topgehalte musiek en talle stalletjies. Feesgangers kan uitsien na ’n uithalerprogram met kunstenaars soos Elvis Blue, Heinz Winckler, Piet Smit, Neil Büchner, Riana Nel en vele ander.
Toegang vir volwassenes: Vrydag R50; Saterdag R100; Sondag gratis; naweekpakket R120. Kinders (leerders): Vrydag R30; Saterdag R60; Sondag gratis; naweekpakket R70. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Kontak Willie Opperman by 083 650 1640.