Home / TNPA ontken verwarring


Eugene Kearns, uitvoerende bestuurder: nuwe besigheidsontwikkeling by TNPA, het gesê die ontginning van geleenthede in die winsgewende olie- en gasbedryf is steeds ’n hoë prioriteit. “’n Basis om hersteldienste aan oliebore te lewer kan onmiddellik in Saldanhabaai opgerig word. Die hawe het baie potensiaal wat benut kan word.”

Tog kan die hawe-owerheid nie die internasionale skeepsmaatskappy, UAL, wat miljoene rande wou investeer in ’n Saldanha-basis wat die olie- en gasbedryf sou bedien, tegemoet kom met hul eise nie.

Ter sprake is twee stukke hawe-grond wat TNPA meer as ’n jaar gelede op tender uitgesit het. UAL was die voorkeur-tenderaar vir ’n 15-jaar huurkontrak van die grond. Die huurkontrak is in Oktober verlede jaar deur TNPA goedgekeur.

UAL het verlede week aangedui dat hulle nie meer met die huurkontrak wil voortgaan nie. As redes is onder meer aangevoer dat TNPA die oorspronklike huurkontrak verander het; die langdradigheid van die onderhandelings (16 maande); en verbetering aan infrastruktuur in die hawe.

Tau Morwe, TNPA uitvoerende direkteur, het Dinsdag gesê hy weet nie van enige veranderinge wat aan die kontrak gemaak is nie.

Verder dat die “verbeteringe” ter sprake verwys na ’n gedeelde openbare pad wat deur die terrein sal loop, en ’n kaai (jetty) asook die verskuiwing van ’n gebou van TNPA.

Volgens Morwe het ’n dispuut in Desember – ná TNPA in Oktober die 15-jaar-huurooreenkoms goedgekeur het – ontstaan. UAL wil private gebruik van die kaai hê terwyl TNPA die status quo van openbare toegang en gebruik van die kaai as ononderhandelbaar beskou.

“Die privatisering van die kaai kan nie toegelaat word nie en is nie deel van die oorspronklike tender nie,” het Morwe gesê.

Volgens Morwe word ook beplan om die TNPA-gebou, geleë op die betrokke stukke grond, te skuif, maar UAL wil hê dit moet vinniger geskied.

Shane Cordom, bestuurder van strategiese ondersteuningsdienste van die Saldanhabaai-munisipaliteit, het sy kommer uitgespreek dat internasionale beleggers in die gebied deur tydsame vertragings afgesit kan word.

’n Verteenwoordiger van die Kaapse Kamer van Koophandel het gesê sowat 200 oliebore vaar jaarliks verby Saldanha en Kaapstad vir herstelwerk elders. Daar is baie beskikbare besigheid as die fasiliteite daar is, het hy gesê.

’n Woordvoerder van UAL hetWoensdagmiddag, ná ’n vergadering tussen die twee partye, gesê die vergadering was positief en onderhandelinge duur voort. UAL sal met sy oorspronklike planne voortgaan.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Sunday 2012-05-20
Please select your area for forecast
CPT 8° - 15° icon
PTA 5° - 21° icon
JHB 3° - 18° icon
BLOEM -2° - 15° icon
DBN 16° - 21° icon
PE 7° - 17° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs