’n BEKENDE vuurwapenversamelaar van Jacobsbaai se wapenversameling is onder die soeklig ná ’n klag van wapendiefstal teen sy eie seun.
Die Saldanha-polisie het Vrydag op Johan Geyer (56), bekende vuurwapenkenner, se uitgebreide vuurwapenversameling beslag gelê.
Geyer is ook gewaarsku om op 17 Mei in die Vredenburg-landdroshof te verskyn.
Geyer se vuurwapenversameling van meer as 70 vuurwapens, sluit onder meer verskeie gewere in wat uit die Anglo-Boere-oorloë dateer. Volgens kapt Patrick Frans van die Saldanha-polisie het ses van die vuurwapens nie die nodige dokumentasie nie, nog tien se aansoekvorms is ingedien, maar wag op goedkeuring.
Dan word ook ondersoek of die nodige wetlik vereiste veiligheidsmaatreëls in plek was.
Volgens Geyer behoort die vuurwapens, wat sonder dokumentasie is, aan ander wat hom gevra het om dit te stoor omdat hy die nodige fasiliteite het. Hy het, by terugkeer van ’n oorsese kuier by sy vrou, van hierdie vuurwapens, asook ander (tien in totaal), uit sy wapenversameling vermis.
Geyer het self verlede Maandag (30 Januarie) ’n klag van vuurwapendiefstal teen sy seun, Chris (22), by die Saldanha-polisie gaan lê, het Frans gesê.
Chris (22), ook bekend as Johan, word daarvan aangekla dat hy sy pa se vuurwapens uit die vuurwapenkluis gesteel het ná hy die sleutel na bewering in die hande gekry het.
Volgens Frans word ondersoek of Chris van die vuurwapens verkoop het.
Hy is dieselfde Maandag in hegtenis geneem en is verlede Donderdag op borgtog vrygelaat. Hy verskyn weer op 15 Maart.
Verskeie van die vuurwapens is verlede Woensdag met ’n gesamentlike polisie-optrede deur Saldanha- en Vredenburg-polisie, die misdaadintelligensie-eenheid en die nasionale intervensie-eenheid, teruggevind.
Die ondersoek teen Geyer senior spruit daaruit dat, in terme van die Vuurwapenwet, dit ’n kriminele oortreding is as redelike stappe nie gedoen is om die sleutel van ’n vuurwapenkluis in veilige bewaring te plaas nie.
Indien Geyer senior skuldig bevind word dat hy nie genoegsame veiligheidsmaatreëls in plek gestel het nie, kan hy tot ’n maksimum van vyf jaar gevangenisstraf opgelê word.
Geyer senior het gesê die saak is baie sensitief en die ondersoek teen hom nog sub judice.
Hy het bygevoeg hy probeer nie weghardloop van sy verpligtinge nie, maar die proses om vuurwapens wettig te registreer is baie frustrerend. “Ek het al honderde duisende rande spandeer in oproepe na die polisie oor dokumentasie.
“Sommige van die lisensies het sewe jaar gevat,” het hy gesê.