VREDENBURG – Die NG Moedergemeente se nuwe predikant het Sondag sy eerste intree-preek gelewer.
Ds Thys du Toit (29) is ’n boorling van Vredenburg en het op die ouderdom van ses jaar na Sasolburg verhuis.
Hy het daar matrikuleer, vir ’n jaar in Engeland gewerk en toe Dierkunde/Plantkunde by Potchefstroom studeer.
In 2002 het hy besluit om predikant te word en is in 2008 gelegitimeer.
Hy het in 2006 met sy vrou Elnette, wat ’n apteker is, getrou en hulle het ’n vyf maandoue blou-oog dogtertjie, Elma.
Hy het drie jaar die gemeente van Warmbad (Bella Bella) in die Limpopo-provinsie bedien.
“Ek het baie by die gemeente geleer,” het hy gesê.
Du Toit het vertel dat hy en Elnette onlangs ’n Weskusvakansie beplan het, omdat sy nog nooit hier was nie, maar nooit het hy kon raai dat hulle in Vrendenburg sou woon nie.
Oor sy eerste diens Sondag, het hy geantwoord: “Ek is glad nie senuagtig nie. Ek het altyd ’n vrees gehad om voor mense te praat en vandat ek die Here ontmoet het, het Hy die vrees weggevat.”
Hy is nie daar om mense tevrede te stel nie maar om die Here se woord met die gemeente te deel, het Du Toit gesê.
Hy beskryf homself as ’n aktiewe, familievaste en avontuurlustige persoon.
“My familie is my eerste prioriteit, ek is geheg aan my goeie vriende en ek is lief vir fietsry en swem.”
Hy glo hy sal lekker met die gemeente kan inskakel.
Hy het gesê daar sal miskien mense wees wat nie van sy styl hou nie, maar hy glo hy is geroep omdat die Here op die gemeente se harte gedruk het.
Hy sal graag wil hê die gemeente moet die Here ontmoet en hul gawes gebruik.
“Daar is baie wat nie weet hoe om hul gawes wat hulle ontvang te gebruik nie.”