VREDENBURG – Derduisende Wes-Kaapse kinders sal in die volgende vier maande teen die dodelike pneumokokkale siektes ingeënt word as deel van die departement van gesondheid se Catch Up Drive-program.
Die entstof, Prevenar 13, bied beskerming teen siektes soos onder meer longontsteking en breinvliesontsteking.
Die program, wat in samewerking met die private sektor onderneem word, mik om alle kinders 18 maande tot drie jaar oud, asook hoë risiko-kinders onder ses jaar, met dié nuwe entstof in te ent.
Kinders ontvang die entstof op ses weke, 14 weke en nege maande.
Die bykomende entstof word aan kinders tussen 18 maande en drie jaar gegee. Kinders onder ses jaar wat in ’n hoërisiko-groep val, sal nog twee inentings ontvang, agt weke uit mekaar.
Dit sluit kinders in wat MIV-positief is en wat aan nier- en hartkwale ly.
Die departement doen ’n beroep op alle ouers en versorgers om gebruik te maak van hierdie geleentheid om hul kinders na klinieke te neem vir inenting.
“Dit is kommerwekkend dat ’n groot aantal kinders voor hulle 5de verjaardag sterf. Ongelukkig word baie van hierdie sterftes veroorsaak deur siektes wat deur inenting voorkom kon wees,” het die minister van gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, gesê.
Motsoaledi skryf hierdie onaanvaarbare toestand toe aan swak primêre gesondheidsorg soos inenting.
Minstens 17 kindersterftes waarvan ses by geboorte dood is, is tussen Januarie en Desember 2011 by kinders onder vyf jaar by die Vredenburg Provinsiale Hospitaal aangemeld.
Die ontstellende hoë kindersterftesyfer in Suid-Afrika word uitgelig deur die bewusmakingsveldtog soos swangerskapweek wat vanaf 12-18 Februarie plaasvind.
Volgens die jongste statistiek wat deur die Verenigde Nasies se statistiekafdeling (http://unstats.un.org/unsd/default.htm) gepubliseer is, is Suid-Afrika se kindersterftesyfer 43,2 sterftes vir elke 1 000 geboortes, wat merkbaar hoër is as die van ander lande soos Mexiko en Brasilië.