VREDENBURG – Die Salkoriane atletiekklub van Vredenburg-Saldanha se ledetal het vanjaar gegroei na 27 lede en kan nog verder uitbrei.
Die klub se voorsitter, Sakkie Mentoor, is vol vertroue dat die klub vanjaar kan verbeter op hul prestasies van verlede seisoen.
Die klub is nog steeds by die Boland Atletiek unie geaffilieer. Een van die klub se veteraan atlete, David Andrews, het Saterdag op George in die SA Marathon oor 42 kilometers uitgeblink en uit 1 000 deelnemers 76ste geëindig. Dié 46-jarige Weskusser het met ’n tyd van 2:56:25 die wenstreep oor gesteek. Hy is nou vir die tweede jaar lid van die klub, maar het ook al by ’n vorige keer die Bolandse Provinsiale span behaal.
Die kanse is ook dat hy die SA span later vanjaar kan haal.
Van die klublede het ook onlangs aan die veld- en baanwedlope op Hopefield deelgeneem en atlete soos Azel Boois, Richard Bester, Marco Jansen, Marchell Arends en Machelinno Meintjies het dit suksesvol voltooi.
Die jaar het ook baie goed vir die Salkoriane afgeskop omdat die departement van sport en ontspanning se tak op Vredenburg nuwe uitrustings aan die klub geskenk het.