VREDENBURG – Vredenburg-Saldanha-krieketklub se tweede span het Saterdag op hul tuisveld in ’n Eerste Divisie Drakenstein 50 boulbeurte-krieketwedstryd die bul by die horings gepak met Paarl-Oos.
Die tuisspan se uitgeslape kaptein, Carlo Thomas, en sy span was uitgehonger vir aksie, maar hulle het geensins hul opponente onderskat nie.
Die tuisspan het eerste voor die penne stelling ingeneem nadat Thomas die loot gewen het en die Kannemeyer-broers, Tommy en Quinton, vir hul span geopen het.
Quinton het die wilgerlat lustig geswaai en ’n manjifieke beurt van 148 lopies, wat 23 grenshoue (20x4 en 3x6) ingesluit het, gemoker.
Kort op sy hakke was Louwtjie van Wyk met 67 lopies (4x6,3x4).
Shane Summers het 61 lopies (6x6, 4x4) aangeteken en Marcum Mowers het 34 lopies, wat twee viere ingesluit het.
Na die tuisspan se verpligte boulbeurte was daar 371 lopies op die telbord.
Die besoekers se mees belowende boulers was Hein Erasmus met 2/56, Zackerie Cyster met 2/72 en Roderick Allie wat twee paaltjies vir 86 lopies platgetrek het.
Na ’n welverdiende blaaskans het die besoekers die wenlopies gejaag, maar kon nie in hul kolfbeurt die mas opkom teen die vernietigende boulwerk van die tuisspan se boulers nie.
Elroy Louw met 4/27, Charlton Villet met 2/7 en Riaan Kiwido ook met 2/7 het die besoekers se kolwers soos ’n orkaan getref.
Paarl-Oos is vir ’n telling van 123 lopies uitgeboul en die tuisspan het die wedstryd met 245 lopies gewen.