WESKUSSERS en jazz-liefhebbers kan gereed maak vir ’n onvergeetlike naweek by die tweede Jazz on the Rock-musiekfees in die Tietiesbaai-oord van Vrydag tot Sondag, 2-4 Maart.
By dié musiekfees “met ’n verhoog wat op die rotse by die see gebou is, is die beste sitplek sommer in die water,” het die hooforganiseerder, Clarence Ford van Camissa Solutions gesê.
“Vanjaar word daar groot klem geplaas op die feit dat dit nie net ’n eko-vriendelike fees is nie, maar ook ’n familie-georiënteerde geleentheid,” het hy bygevoeg.
Die feestelikheid skop Vrydagaand af met Latynse musiek deur internasionale kunstenaars soos Camillo Lombard en Latin Kings.
Saterdag se program gaan feesgangers met ’n oordosis Jazz-klanke vermaak met kunstenaars soos N2, Andrew Young, Allou April, Claire Phillips, Conversations with Joe McBride, Airborne, en Alistaire Izobel.
Local bly lekker en die fees sluit Sondag af met optredes deur plaaslike kunstenaars West Coast Groove, Alvin Dyers Project en Vernon Castle.
Die kampeerplekke vir dié naweek by die Tietiesbaai-oord is reeds in Oktober verlede jaar uitverkoop. Mense wat by ’n bed-en-ontbyt of selfsorgverblyf in Paternoster, Vredenburg, Saldanha of Langebaan plek bespreek, kwalifiseer vir ’n naweekpas wat dieselfde voordele bied as diegene wat by die Tietiesbaai-oord kampeer.
’n Dagbesoeker kry slegs Saterdag toegang tot die fees. Die hekke open om 07:00 en alle dagbesoekers moet die reservaat teen 18:30 verlaat.
Die musiek begin om 10:00 en eindig om 18:00.
Dagbesoeker-kaartjies is te koop by Computicket . Vir die volledige feesprogram en meer inligting, besoek www.jazzontherocks.net.