Home / Nuus uit die sake-wêreld













EXXARO staan op die punt om ’n ysterertsmyn in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) te koop wat aanstaande jaar erts sal begin lewer.

Die myn, die Mayoko-yster­ertsprojek, behoort aan African Iron, ’n maatskappy wat in Australië genoteer is.

Exxaro se aandeelprys het met 2,08% gedaal nadat nuus oor die moontlike transaksie deur die Dow Jones-nuusagentskap uitgelap is. African Iron se aandeelprys het met 9% gestyg. Die maatskappy se markwaarde staan tans op A$200 miljoen, maar die uiteindelike prys sal glo nader aan A$300 miljoen (sowat R2,5 miljard) wees.

Die transaksie is so ver gevorder dat dit vandeesweek reeds aangekondig kan word.

 

l In 2011 is 43,1% meer nuwe trekkers in Suid-Afrika verkoop as in 2010.

Die vereniging vir landboumasjinerie (Saama) verwag egter ’n afname in verkope van tussen 5% en 10% in 2012.

Luidens ’n verklaring deur Saama is 488 nuwe trekkers verlede maand verkoop, 28% meer as die 381 eenhede in Desember 2010. Altesame 7 379 nuwe trekkers is verlede jaar verkoop. Boere het verlede jaar ook aansienlik meer nuwe stropers gekoop as in 2010. Hoewel daar verlede maand net 4 nuwe stropers verkoop is teenoor die 14 in Desember 2010, is 38% meer nuwe stropers – altesame 260 – deur die jaar verkoop as in 2010.

 

l  Ouditeure en private ondernemings het gister ’n sug van verligting geslaak omdat die indiening van handleidings ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) met vier jaar tot 31 Desember 2015 uitgestel is.

Die meeste ondernemings was tot kort voor die einde van ver­lede jaar onbewus daarvan dat die sluitingsdatum vir die indien van sodanige handleidings 31 Desember 2011 was. Dit het tot groot konsternasie gelei omdat ondernemings wat nie aan die vereistes van die wet voldoen nie, aan boetes blootgestel kan word.

Jeff Radebe, minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, het op 30 Desember ’n ­regeringskennisgewing onderteken waarin hy toestemming vir uitstel aan die meeste private ondernemings gee. Dit sluit dié uit wat 50 of meer werknemers het of wat meer as ’n gegewe jaarlikse omset het, afhangend van die sektor waarin die onderneming sake bedryf.

 

l Die Weste berei hom aktief voor vir ’n Iranse versperring van die strategiese Straat van Hormoes, waardeur sowat ’n derde van die wêreld se olie vervoer word.

Iran het verlede week gedreig om die straat te sluit indien die Europese Unie (EU) sou besluit om ’n olieboikot teen hom af te kondig in reaksie op sy ontwikkeling van kernwapens. Luidens berigte het diplomate van die 27 EU-lidlande onderling reeds konsensus oor ’n boikot bereik, maar die formele besluit sal eers op ’n spitsberaad einde Januarie in Brussel geneem word. (Bron– Sake24.)











 

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Sunday 2012-05-20
Please select your area for forecast
CPT 8° - 15° icon
PTA 5° - 21° icon
JHB 3° - 18° icon
BLOEM -2° - 15° icon
DBN 16° - 21° icon
PE 7° - 17° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs